"opstaan"

’n Monument om eer te bring aan ons dapper Afrikanervroue en -dogters wat die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (ABO) oorleef en teruggekom het na hulle plase, wat totaal vernietig was, en self hand aan die ploeg geslaan en vorentoe gekyk het om dié plase weer te herbou.

 

Dié monument genaamd “Opstaan” en wat bestaan uit brons en sandsteen, is op 5 Augustus vanjaar  deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) by sy Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul om Nasionale Vrouedag en- maand te gedenk.

 

Jacques Müller, beeldhouer van die nuwe monument,  sê: “Dit is ’n simbool van geloof en volharding deur ’n onmenslike onverstaanbare tragedie in ons volksgeskiedenis. Sonder hulle (vroue) se opstaan sou ons nie vandag hier gewees het nie.”

 

Müller verduidelik dat hy ’n trotse Afrikanervrou met ’n stoere gelaat in brons uitgebeeld het.

“Haar postuur is gedrewe en trots, penregop en grasieus in haar beweging. Agter haar rug word ’n brons ploeg getrek deur ’n gebroke aarde wat deur vier verskillende klippe voorgestel is op ’n sandsteenbasis.”

Die klippe is metafories vir die gebroke Boererepublieke.

 

Saam met die Opstaan-monument is ’n herinneringsmuur met die name van die sowat 800 vroue en dogters wat die ABO oorleef het, aangebring.

 

Georgiana Solomon, ’n Skotse filantroop, opvoeder en kampvegter in Suid-Afrika, beskryf in 1905 die toestand van die Boeregesinne wat sy tydens haar reise op die Transvaalse en Vrystaatse platteland ontmoet het. Sy vertel die aangrypende verhaal van vroue wat hulself in spanne van nege voor ploeë ingespan het om saad in die grond te kry omdat daar geen osse was om die ploeë te trek nie. Toe sy oor gedeeltes van hierdie geploegde land loop, het dit vir haar gevoel sy loop op heilige grond.

 

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dié beeld is vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die kontinuïteit tussen die verlede en die toekoms.

“Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie.”

 

Dit is vanjaar presies 120 jaar gelede toe Lord Roberts die verskroeideaardebeleid in Pretoria aangekondig het. Die doel van dié beleid was om die Boeremagte se ondersteuningstelsel en infrastruktuur te vernietig. ’n Uitvloeisel hiervan was dat letterlik duisende vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur is, waar hulle die intense moontlike lyding en leed beleef het.

 

  • Die FAK het ter viering van sy 90ste bestaansjaar verlede jaar begin met ’n projek om nuwe monumente te bou.

  • Die eerste beeld van dr. NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en die eerste hoofleier van Die Voortrekkers is in Februarie 2019 onthul. Die Penkopmonument is op 12 Junie 2019 by die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul. Dié monument vanuit sandsteen is van ’n jong seun, oftewel penkop, wat tydens die Anglo-Boereoorlog skielik man moes word en noodgedwonge in die oorlog moes veg. Saam met die beeld is twee borde met die name van 2466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het, en ’n aambeeld onthul. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die naoorlogse seuns.

  • Die derde beeld oftewel Sorgmonument is op 16 Junie vanjaar in die Irene-konsentrasiekamp in Irene, Centurion onthul.

  • Jacques Müller het al vier beelde tot dusver gemaak.

ADRES

 

Udolpho Rivierplaas

Vaal Edenweg, Parys

Vrystaat

KONTAK ONS

 

besprekings@fak.org.za

Tel: 056 818 1197

 

WERKSURE

 

Maandag-Sondag

08:00-18:00

©2020 Kreatief saamgestel deur FAK Udolpho Rivierplaas.

  • Facebook
  • Instagram