Penkopmonument

Die Penkopmonument is op 12 Junie by die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat onthul.

Dié monument vanuit sandsteen is van ’n jong seun, oftewel Penkop, wat tydens die Anglo-Boereoorlog skielik man moes word en noodgedwonge in die oorlog moes veg. Saam met die beeld is twee borde met die name van 2466 seuns tussen ses en 16 jaar wat dié oorlog oorleef het, en ’n aambeeld onthul. Die aambeeld is ’n simbool van die staal, die daadkrag en harde werk van die na-oorlogse seuns.  

 

Die FAK het ter viering van sy 90ste bestaansjaar vanjaar begin met ’n projek om drie nuwe monumente te bou.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die beelde word vir ’n nuwe generasie Afrikaners opgerig en kyk na die kontinuïteit tussen die verlede en die toekoms.

“Die klem is om nuwe beelde te bou en koerswysers vir die toekoms te skep waarop die Afrikaner trots is. Dit is ’n storie van hoop. Ons is steeds hier, ons gaan nie weg nie.”

Daarom het die FAK ’n geskiedenisfonds bekend gestel, waar Afrikaners met R50 of R100 die nuwe Afrikanermonumente kan help finansier om sodoende die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Die eerste beeld van dr. NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en die eerste hoofleier van Die Voortrekkers is in Februarie onthul.

 

“Met die Penkopmonument wil ons sê die jeug moet trots wees op wat hulle is. As jy vandag opstaan vir jou land, beteken dit nie jy moet ’n geweer opneem nie. Maar jy sal dieselfde oortuiging, moed en dissipline moet hê as jy vandag opstaan vir dit wat vir jou saak maak,” sê Langner.

 

“Ons vier vanjaar die 120ste herdenking na die uitbreek van die alleverwoestende Anglo-Boereoorlog. Op 16 Junie 1900 het Lord Roberts die verskroeideaardebeleid aangekondig, wat baie kinders se lewens ingrypend verander het. Plase is afgebrand, kinders is konsentrasiekampe toe gestuur en daarom herdenk ons 16 Junie ook as die dag waar ons dink aan die lyding en opoffering van ons kinders. Vir 120 jaar het Afrikaners die kinders herdenk wat in die konsentrasiekampe gesterf het en ons moet dit nog vir geslagte lank doen wat kom, maar daar is ook ’n ander kant van die munt. Dít is dat daar baie kinders is wat deur hierdie oorlog geraak is, kinders wat die oorlog oorleef het en kinders wat opgestaan en gebou het.”

“Hierdie beeld is ’n simbool van kinders se bouwerk, wat uit die ashope opgestaan het en vir hulle ’n toekoms uitgekap het. Dit is terselfdertyd ook ’n boodskap vir vandag se kinders. Dit dra ’n boodskap dat ons mag trots wees op wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons hoef nie slagoffers te wees van ons omstandighede en verliese nie, maar dat ons moet opstaan en hard moet werk aan ons toekoms.”

 

Jacques Müller, ’n beeldhouer en skilder van Pretoria, sê hy het dié beeld uit klip van ’n kind gemaak deur die oë van ’n kind, vir ’n kind.

Müller sê: “Ons Afrikanerkultuur is in die verlede gegrond en daarom het ek ’n kind, wat uit die as opgestaan het, gemaak.”

Dié beeld sluit aan by die bronsbeeld van Van der Merwe, wat Müller ook gemaak het. Van der Merwe was as jong seun in die Norvalspont-konsentrasiekamp in die Noord-Kaap tydens die Anglo-Boereoorlog. Die beeld van Van der Merwe staan as Toekomsargitek bekend.

 

Müller het aan dié beeld van ’n jong seun, gewapen met ’n pistool, uit sandsteen met ’n beitel en hamer gestalte gegee.

 

“Sy onskuld is deur die besluite van grootmense gesteel. Al die fases van ’n seun se grootwordjare, kleuter, adolessent en uiteindelik man, manifesteer in hierdie rots. Al is die seun onseker oor sy toekoms en sy doel op hierdie aarde, neem hy rotsvas stelling in teen die noodlot, wat ongenooid op hom afstuur. Omhels deur die leë bandolier, wat geen doel meer dien, sy laaste uitweg die pistool, wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het, is hy oortrek met storms van angs, maar ’n ongeskonde geloof in iets veel groter as lewe,” verduidelik hy die simboliek agter die beeld.

Hy sê volharding, deursettingsvermoë, vasberadenheid, selfstandigheid, trots en dat hoop vir die toekoms onmisbaar is, versinnebeeld dié beeld.

“Dit is ’n kind, wat vinnig ’n man moes word en in onmenslike omstandighede floreer het. Hy het die toekoms vir anders kinders deur sy dapperheid gevorm.”

 

Aan die Penkopseun se linkersy het hy ook ’n vlam en wiel uitgebeitel. Dit dui op onblusbaarheid en vooruitgang.

 

Aan die voet van die Penkopmonument staan die woorde van Müller uit graniet gekerf:

Ek het ’n kind gemaak. Uit die oë van ’n kind. Vir ’n kind.

Hierdie kind se aarde is verskroei.

Sy onskuld gesteel, deur die besluite van grootmense.

Al die fases van ’n seun se grootwordjare, kleuter, adolessent en uiteindelik man word in hierdie gesig uitgebeeld. ’n Man in die lyf van ’n seun.

Onseker oor sy voorkoms en sy doel op hierdie aarde, neem hy rotsvas stelling in, teen die noodlot wat ongenooid op hom afstuur.

Omhels met bandolier wat geen doel meer dien, sy laaste uitweg die 7.63 mm-Mauserpistool wat ’n gesneuwelde offisier hom nagelaat het.

ADRES

 

Udolpho Rivierplaas

Vaal Edenweg, Parys

Vrystaat

KONTAK ONS

 

besprekings@fak.org.za

Tel: 056 818 1197

 

WERKSURE

 

Maandag-Sondag

08:00-18:00

©2020 Kreatief saamgestel deur FAK Udolpho Rivierplaas.

  • Facebook
  • Instagram